een in liefde, een van hart, een in strewe

Bybelskool

Vyf voltydse en drie deeltydse Bybelskoolstudente het die Timoteus Opleiding kursus suksesvol voltooi. Ons bid dat die kennis wat hulle opgedoen het, waarlik vrug in hul lewens sal dra. Ook dat daar, waarheen die Here hulle mag stuur om Sy Woord te gaan bedien, siele vir die Koninkryk gewen sal word.

Gebedsbrief

Hidroponiese Projek

Die vierde struktuur (multi-span wat drie standaard struktuur-groottes aanmekaar is) is suksesvol voltooi. ‘n Derde van die area is beplant en word reeds hidroponies verbou. Die kleiner tonnels lewer tans hul eerste oes en positiewe terugvoer oor die goeie kwaliteit van die tamaties is ontvang. Ons is baie dankbaar vir al die hulp beide intern en ekstern om hierdie projek op die been te kon bring. Ons is ook baie dankbaar vir die verhittingsmasjien wat hierdie winter die plante teen die ysige koue beskerm het.

 

Bid asseblief saam met ons vir getroue werkers en gewillige harte. Bekering onder werkers. Beskerming teen peste, plae en siektes, sowel as vir die nodige kennis om dit suksesvol te kan voorkom en/of bestry. Beskerming teen diefstal. Die voorsiening van die nodige finansies om die laaste twee derdes van die multispan te kan plant, en ons eie veiligheid.

Besoekers vir Geestelike Hulp

Bid asseblief dat elke soekende individu wat op Adullam Sending aankom, werklik erns met die Here sal maak in die tyd wat hulle hier is. Bid dat hulle hul nood sal besef en werklik die Here se aangesig in hul lewens sal soek.

Bid saam met ons vir werklike bekerings

Meisieskoshuis

Ons is baie dankbaar vir die toewyding van die personeel wat diens doen in die meisieskoshuis. Ons personeel het werklik ’n hart vir die kinders en vir die bediening wat hulle opgelê is. Die senior dogters se mooi gesindhede en hulp, veral met die roetines ens van die kleintjies (Graad 1 tot 3) is ook vir ons tot groot seën.

Bid saam met ons dat elke personeellid se lewe vrug in die lewens van ons koshuisstudente sal dra.

Veilige Hawe

Adullam Sending is deur die landdros van die streekshof aangewys as ‘n veilige hawe vir kinders. Nege kinders is al amptelik aan ons toegewys. Baie ander kinders se sake is nog in die proses van ondersoek en afhandeling. Kinders word net hier afgelaai, ander kom klop self aan vir hulp en nog ander se families gee hulle weg.

 

In die lig van mensehandel (human trafficking) met die oog op die Wêreldsokker 2010, sê die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) dat dit ‘n wesenlike problem en gevaar vir kinders in ons omgewing is. Ons streek is een van nege in Suid Afrika wat teikengebiede is omdat daar geen paraatheid en sisteme in plek is om díe situasie te hanteer en te voorkom nie.

 

Die kinders tans hier by ons is veilig en gelukkig. Ons is besig met ‘n immuniseringsprogram om al diesulkes van die nodige immuniserings te voorsien. Met die hulp van vrywilligers het ons ‘n vakansieskoolprogram begin om kinders besig te hou en allerlei vaardighede te leer sowel as om na die kinders uit te reik en verhoudings met hulle te bou.

 

Bid saam met ons vir redding van hierdie kinders.

Adullam Sending   Posbus 7077   Secunda   2302   Mpumalanga   Suid Afrika

2

Net ‘n Gedagte:  Goedhartigheid is ‘n taal wat dowes kan hoor en blindes kan sien.